' n Tuiste vir Almal







 CHRISTENSENTRUM, ELSPARK

   CHRISTENSENTRUM
   GEMEENTES        
        
      

                     GEMEENTEBELEID

DIE APOSTOLIESE GELOOF SENDING VAN SUID-AFRIKA

GEMEENTE: ELSPARK
 

BELEID

(INGEVOLGE DIE BEPALINGS VAN ARTIKEL 2.4.1 VAN DIE KONSTITUSIE VAN DIE KERK)

1.                   NAAM

Die naam van die gemeente is:

DIE APOSTOLIESE GELOOF SENDING VAN SUID-AFRIKA Christensentrum, AGS Elspark GEMEENTE

 

2.                   ONTSTAAN

Die gemeente glo en verklaar nederig dat:

2.1               Dit sy ontstaan, voortbestaan en bestemming van God het;

2.2               Dit ‘n openbaring van die Kerk van Jesus Christus is, onder Sy heerskappy as Hoof, ooreenkomstig die uitsprake van die Heilige Skrif,
die werking van die Heilige Gees en die bedieninge deur Hom ingestel.

 

3.                   GELOOFSBELYDENIS

Die gemeente onderskryf die Geloofsbelydenis soos verklaar deur die Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika ingevolge afdeling A.3
(Aanhef) tot die konstitusie van die kerk, wat soos volg lees:

3.1                 ONS GLO in die ewige, drie-enige God, almagtige skepper, onderhouer en regeerder van die ganse skepping.

3.2                 ONS GLO in God die Vader, die outeur van die skepping en verlossing.

3.3                 ONS GLO in Jesus Christus die enigste Seun van God die Vader, ware God wat ter wille van die mensdom en sy verlossing, van die hemel neergedaal en vlees geword het; wat verwek is deur die Heilige Gees en gebore is uit die maagd Maria; wat op die aarde geleef het en gekruisig is, gesterwe het en begrawe is, wat uit die dood opgestaan en opgevaar het na die hemel waar Hy aan die regterhand van die Vader sit.

3.4                 ONS GLO in die Heilige Gees, wat van die Vader en die Seun uitgaan, wat die węreld oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel en in die hele waarheid lei.

3.5                 ONS GLO dat die Bybel die woord van God is, geskryf deur mense onder die inspirasie van die Heilige Gees.  Ons glo dat dit gesaghebbend die wil van God verkondig en ons alles leer wat vir saligheid nodig is.

3.6                 ONS GLO dat alle mense na die beeld van God geskape is; as gevolg van hulle sondige opstand is hierdie beeld geskend, dat alle mense voor God gesondig het en dit die wil van God is dat alle mense saligheid sal ontvang deur geloof in Jesus Christus.

3.7                 ONS GLO in die doping in die Heilige Gees, met die aanvanklike teken van spreke in tale soos aan alle gelowiges belowe is.  Ons glo in die werking van die gawes en vrug van die Gees in die lewe van ‘n Christen.  Ons glo dat ‘n Christen ‘n dissipel van Jesus Christus behoort te wees en wat ‘n toegewyde en heilige lewe lei.

3.8                 ONS GLO dat Jesus Christus die Hoof van die Kerk is wat deur die Heilige Gees saamgevoeg is en wat bestaan uit alle wedergebore gelowiges.  Die Kerk is verantwoordelik vir die verkondiging en demonstrasie van die evangelie en God se wil vir alle mense.  As charismatiese gemeenskap verkeer hulle onderling en stig mekaar.

3.9                 ONS GLO dat die doop van die gelowige deur onderdompeling en die Nagmaal instellings van Jesus Christus is en deur die Kerk onderhou moet word.

3.10             ONS GLO dat op die God-bestemde tyd Jesus Christus Sy Kerk sal kom wegneem.

3.11             ONS GLO in die oordeelsdag wanneer Jesus Christus die lewende en die dode sal oordeel.  Ons glo in die opstanding van die liggaam en ‘n ewige lewe vir die regverdige en ewige straf vir die goddelose.  Ons glo in ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waar God in heerlikheid sal regeer.

 

4.                  VISIOEN

Ons gee om vir mense en ons wil mense tot lewensvervulling in Christus
      Jesus te lei.

 

5.                   SENDING

5.1                 Die gemeente onderskryf die Sending van die Apostoliese Geloof
 Sending van Suid-Afrika ingevolge afdeling A.4 (Aanhef) tot die
 konstitusie van die kerk, wat soos volg lees:

             Die Sending van die kerk is:

5.1.1            Om God te verheerlik;

5.1.2            Om die koninkryk van God te verkondig deur die bediening van die
 evangelie van Jesus Christus deur die krag van die Heilige Gees;

5.1.3            Om die behoeftes van die mens in totaliteit aan te spreek;

5.1.4            Om gelowiges te ontwikkel, toe te rus en geleentheid te gee vir
 bediening;

5.1.5            Om die invloed van die kerk buite sy grense en die buiteland uit te brei;

5.1.6            Om die gemeenskap van die gelowiges en netwerk van bedieninge te
 promoveer.

5.2                 Daarom is die sending van die gemeente:

Deur die ontwikkeling en vestiging van geinpireerde leierskap en bestuur binne ‘n dinamiese struktuur en aksies om:

5.2.1            ‘n Christosentriese evangeliese karakter en rentmeensterskap in die gemeente te ontwikkel en te versterk;

5.2.2            Te sorg vir die geestelike en tydelike behoeftes van die lidmate van die gemeente;

5.2.3            Die lidmate, onafhanklik en kollektief, te bemagtig om hul talente en roeping in diens van die kerk van Jesus Christus en in die gemeenskap te gebruik, sodat mense hul aan Jesus Christus sal verbind en hulle volle lewenspotensiaal bereik.

 

6.                   KERNWAARDES OF BEGINSELS

6.1                 Liefde

6.2                 Respek

6.3                 Leierskap

6.4                 Deursigtigheid

6.5                 Integriteit

6.6                 Verantwoordelikheid

 

7.                   REGSSTATUS

Die gemeente is ‘n regspersoon met ewigdurende regsopvolging, geregistreer as ‘n goedgekeurde plaaslike gemeente van die Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika deur die Nasionale Leierskapforum ingevolge artikel 2.1 van die konstitusie van die kerk, en die beheerliggaam soos saamgestel in terme van hierdie beleid is sy agent. Gevolglik –

7.1                 Is die gemeente  ‘n onafhanklike regspersoon onderskei van die kerk en/of sy lidmate, en/of die lidmate van die gemeente en sal, onderhewig aan die regulasies, as onafhanklike regspersoon:

7.1.1            Geregtig wees om vaste eiendom, bates en fondse te besit onderskei van die kerk en sy lidmate of die lidmate van die gemeente;

7.1.2            Geregtig wees om regte, verpligtinge, voorregte, magte en verantwoordelikhede op te neem, onderskei van die kerk en sy lidmate of die limate van die gemeente;

7.1.3            Geregtig wees om regsaksies in sy eie naam in te stel en/of te verdedig;

7.1.4            Geregtig wees om regshandelinge van watter aard ookal in sy eie naam te verrig;

7.1.5           Geregtig wees om eiendom te verkry, te vervreem en/of te beswaar en op enige wyse daarmee te handel;

7.1.6           Geregtig wees om persone in diens te neem, welke indiensneming insluit die beroep van ‘n pastoor of enige ander bedienaar soos bedoel in die konstitusie van die kerk.
 

7.2                 Die beheerliggaam het die bevoegdheid om enige regshandeling te verrig wat nodig mag wees om die roeping van die kerk te vervul in besonder, en om die besigheid en sake te bedryf, en om die magte te beoefen, en om die bedrywighede te beheer van die gemeente names die gemeente.

7.3                 Die beheerliggaam sal inkomste, uitgawes, bates en laste van die plaaslike gemeente ontvang, administreer en daarvoor rekenskap gee, ingevolge die bepalings van die Nasionale Finansiële Beleid wat deel vorm van die regulasies tot die konstitusie van die kerk.

7.4                 Die konstitusie en regulasies van die kerk sal die konstitusie en regulasies van die gemeente wees.

 

8.                   LIDMAATSKAP

8.1                Opneem prosedures

Die volgende prosedures sal gevolg word by die opneem van ‘n lid van
      die gemeente:

8.1.1          Die voltooi van die voorgeskrewe lidmaatskap aansoekvorm en bywoon van nuwe lidmaatskap klas.

8.1.2         Die goedkeuring van die aansoek deur die Beheerliggaam van die gemeente.

8.2                Lidmaatskapvoorwaardes

Die lidmate van die gemeente sal persone wees:

8.2.1         Wat erken is as lidmate van die gemeente by die inwerktreding van hierdie beleid;

8.2.2     Wat die “Geloofsbelydenis” soos hierin vervat, onderskryf en aanvaar;

8.2.3     Wat die uitsprake aanvaar t.o.v. leerstelling, etiek en liturgie soos goedgekeur deur die Nationale Leierskapforum van die kerk.

8.3                Verpligtinge/Pligte

Daar word van die lidmate van die gemeente verwag om:

8.3.1     Hul te onderwerp aan die leierskap van die Presiderende pastoor of Gemeenteleier;

8.3.2     Hul te onderwerp aan die bestuursvoorskrifte soos bepaal deur die Beheerliggaam van die gemeente;

8.3.3     Aktief betrokke te wees in die gemeenskaplike aktiwiteite van die gemeente soos bepaal deur die Leierskap van die gemeente;

8.3.4     Finansieel die werk van die Here in die gemeente te ondersteun, nl Tiende en offerandes;

8.3.5     Dienste getrou bywoon;

8.3.6     Aktief die werk van die Here te ondersteun deur Gebed;

8.3.7     ‘n Persoonlike getuie van die Here Jesus Christus te wees.

8.4                Dissiplinęre en Griewe prosedures

Die Dissiplinęre en Griewe prosedures van die gemeente sal ooreenkomstig die bepalings van bylae 11.1 tot die konstitusie van die kerk wees, met spesiale verwysing na klousules 11.59 tot 11.64 .

 

9.                   BEHEERLIGGAAM

9.1                Agent

Soos bepaal ingevolge artikel 2.5 van die konstitusie van die kerk sal die Beheerliggaam die agent van die gemeente wees.

9.2                Naam

Die Beheerliggaam van die gemeente sal bekendstaan as:  Bestuursraad

9.3                Kwalifikasies

Persone aangestel of verkies as lede van die Beheerliggaam van die
      gemeente sal:

9.3.1     Geregistreerde lidmate van die gemeente ingevolge klousule 8 wees;

9.3.2     Kwalifiseer in terme van die basiese skriftuurlike beginsels soos beskryf  in 1 Timoteus 3:1-7 en Titus 1:5-9;

9.3.3     Moet wedergebore wees en as gelowige gedoop is;

9.3.4     Beskik oor leierskap- en bestuursvaardigheide en bereid wees om hul te onderwerp aan voortgesette ontwikkeling van hierdie vaardighede;

9.3.5     Aktief betrokke wees in die aktiwiteite van die gemeente;

9.3.6     Gereeld sy/haar tiendes aan die gemeente betaal;
 

9.4                Samestelling

Die Beheerliggaam van die gemeente sal soos volg saamgestel wees:

9.4.1          Die presiderende pastoor of gemeenteleier soos aangestel, en sal die leier en visioendraer van die gemeente wees, en

9.4.2           ‘n Maksimum van 7 en minimum van 5 lede wat kwalifiseer in terme van klousule 9.3;

9.4.3          Die Beheerliggaam soos saamgestel in terme van klousules 9.4.1 en 9.4.2 sal uit eie geledere persone aanstel tot administratiewe funksies of ander persone ko-opteer vir hierdie doel vanuit die lidmaatskapgeledere van die gemeente.

9.5                Aanstellings prosedures

Die Beheerliggaam sal soos volg aangestel word:

9.5.1     Die Presiderende pastoor sal die name van die bestaande Beheerliggaam, soos by datum van die aanvaarding van hierdie beleid, aan die gemeentevergadering soos gereël voorlę vir bekragtiging as agent van die gemeente;

9.5.2     ‘n Twee-derde meerderheidstem van die lidmate teenwoordig by die gemeentevergadering sal die aanstelling van die Beheerliggaam soos voorgelę in terme van klousule 9.5.1 bekragtig.

9.6                Dienstermyn

Die lede van die Beheerliggaam sal, tensy elders voordien, amp behou tot hy/sy bedank, ontslaan word, uit diens tree of in sonde verval.

9.7                Vakatures

9.7.1            Enige vakature wat mag ontstaan in die Beheerliggaam soos aangestel is in terme van hierdie beleid             sal gevul word deur die oorblywende lede tydens die volgende Beheerliggaam vergadering.

9.7.2            Indien ‘n fakature ontstaan, sal die presiderende pastoor ‘n persoon/e identifiseer, voorlę aan bestuursraad vir aanstelling.

9.8                Funksies

Die Beheerliggaam sal:

9.8.1     Ingevolge die bepalings van klousule 8 lidmate opneem, toerus en versorg, dissiplineer of  hul lidmaatskap beëindig;

9.8.2     Verantwoordelik wees vir die tydelike en geestelike belange van die gemeente;

9.8.3     Ingevolge die regulasies van die Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika enige pastoor beroep van die lys van geordende pastore van die kerk;

9.8.4     Die beroep van ‘n mede leraar sal geskied deur die Bestuursraad;

9.8.5     Die beroep van ‘n presiderende pastoor sal geskied deur die bestuursraad en die forum;

9.8.6     Verantwoordelik wees vir die bestuur van die sake van die gemeente in terme van klousule 7 en die Nasionale Finansiëlebeleleid (Bylae 10 tot die konstitusie van die kerk) van die Apostoliese Geloof  Sending van Suid-Afrika;

9.8.7     Die reg voorbehou om enige wettige instansie binne die gemeente op te rig of te vestig, wat die geestelike of tydelik in die belang van die gemeente geag mag word, bv. Jeug en kinderbediening, vrouebediening/forum, ouderling/diaken raad, bedieningsraad ens.

9.9                Vergaderingsprosedures

Alle vergaderings van die Beheerliggaam sal gehou word in terme van die bepalings van Bylae 1 (Reglement van Orde) tot die konstitusie van die kerk.

 

10                 ALGEMENE BESIGHEIDSVERGADERING

10.1      Elke derde jaar met ingang 1999 sal ‘n Algemene Besigheidsvergadering gehou word op ‘n plek en tyd soos bepaal deur die Beheerliggaam van die gemeente;

10.2      Die Algemene Besigheidsvergadering sal bestaan uit alle geregistreerde lidmate van die gemeente, wat een en twintig (21) dae vooraf kennis gegee is van die vergadering;

10.3              ‘n Kworum by die Algemene Besigheidsvergadering van die gemeente sal die lede            verteenwoordig wees by so ‘n vergadering.

10.4            Die Algemene Besigheidsvergadeing van die gemeente sal verslag ontvang van die geestelike en tydelike welstand van die gemeente, die Bestuursraad bekendstel tot die gemeente.

 

11           ALGEMENE BEPALINGS

11.1            Beleid

Om  hierdie beleid op enige manier te wysig moet geskrewe kennisgewing voorgelę word aan die Sekretaris van die Beheerliggaam ten minste sestig (60) dae voor die volgende Algemene Besigheidsvergadering.  In sodanige kennisgewing moet volledige besonderhede van die voorgestelde wysiging/s, insluitende ‘n motivering daarvoor, verstrek word.   Hierna sal kennisgewing ten minste een en twintig (21) dae voor die Algemene Besigheidsvergadering gesirkuleer word en ‘n twee derde meerderheid stem van die teenwoordige lede by die Algemene Besigheidsvergadering sal besluit of die beleid so gewysig sal word en al dan nie.

11.2            Vrywaring teen ongemagtigde optrede

Onder geen omstandighede sal die gemeente of enige ander regspersoon soos bepaal in hierdie beleid verantwoordelikheid aanvaar vir die aankope of enige ander finansiële- of regsaanspreeklikheid deur enige persoon of liggaam aangegaan, wat nie behoorlik daartoe gemagtig is deur die betrokke liggaam of regspersoon ingevolge die bepalings van hierdie beleid nie.

11.3            Vrywaring van lede

Elke lid van enige statutęre liggaam of regspersoon, soos beskryf in hierdie beleid, sal deur die gemeente gevrywaar wees van verliese, uitgawes of skulde deur hom/haar aangegaan in die uitvoering van sy/haar pligte, met dien verstande dat sodanige verliese, uitgawes of skulde aangegaan, nie as gevolg van sy/haar eie oneerlikheid, opsetlikheid of versuim veroorsaak is nie.

11.4            Vrywaring teen optrede van ander

Geen lid van enige statutęre liggaam of regspersoon, soos beskryf in hierdie beleid, sal aanspreeklik wees vir die optrede, versuim of onbetaalde skulde van enige ander lid van die betrokke statutęre liggaam of regspersoon, of  vir enige verlies wat die gemeente op enige wyse mag ly nie, tensy sodanige optrede, versuim, onbetaalde skulde of verlies veroorsaak is as gevolg van sy/haar eie oneerlikheid, opsetlikheid of versuim.

 

12.                GOEDKEURING VAN DIE GEMEENTEBELEID

Goedkeuring ingevolge die bepalings van artikel 2.4.1 van die konstitusie van die Apostoliese Geloof Sending van Suid-Afrika;

12.1            Gemeente goedkeuring

Hiermee word bevestig dat hierdie beleid goedgekeur is deur ‘n twee-derde meerderheid van die lidmate teenwoordig by ‘n behoorlike gekonstitueerde vergadering van die gemeente.

 
 

 LAAI BELEID HIER 
 AF.....(Word.doc)